Sunday, December 13, 2009

Afrikaanse Koffe-oggend 18 Desember 2009

Hi almal,

Kom ontspan saam met ons vir ons laaste koffie-oggend vir 2009 op Vrydag 18
Desember van 10 tot 12 uur by Trigg Island Cafe Restaurant. Die adres is 360
West Coast Drive in Trigg. Nooi gerus ander vriendinne saam.

Vir die wat belangstel bespreek ons ook 'n paar plekke vir middagete.

Indien moontlik, laat weet asb teen Woensdag 16 Desember, dat ons die
getalle vir die tee en/of middagete met die restaurant kan bevestig.

Ek wil ook graag aan almal 'n Geseende Kersfees en voorspoedige 2010
toewens. Baie dankie vir almal se hulp en ondersteuning gedurende die jaar.
Danksy julle het ons groepie gegroei tot 'n minimum bywoning van 30 dames
per koffie-oggend!

Aan almal wat so gelukkig is om 'n bietjie weg te breek vir die vakansie,
kan ons net se: Geniet elke oomblik maar kom veilig terug!

Groete,

Suzette van der Heijden
0405 111 616

Tuesday, August 4, 2009

City 2 Surf hemde

Hi almal

Die City to Surf is nou net 3 weke of so weg! Die begin tyd is eers 9 uur se kant so daar is heelwat tyd vir almal om daar te kom (veral na die rugby die vorige dag). Registrasie is nog steeds oop so as jy nog gewonder het of jy kan deelneem, jy kan!

Die hemde vir City to Surf moet Vrydag bestel word sodat ons verseker is dat ons betyds sal kry. Dit gaan ligte blou katoen hemde wees met ons span logo op die agterkant. Die hemde kos $25 en is beskikbaar in meeste grotes, met verskillende hemde vir mans en dames. Die mans hemde is bietjie meer losser en langer, en die dames hemde is soos ‘n t-hemp van bv Target.

As jy ‘n hemp gaan bestel asb laat my weet sodat ek die bankbesonderhede aan jou kan stuur. Spesifiseer asb jou grootte en of jy ‘n mans en dames hemp wil he.

Dankie en sien julle almal daar!

Tuesday, July 21, 2009

Onthou: koffie oggend 24 Julie!

Hi almal,

Net 'n vinnige e-pos om almal te herinner aan ons koffie-oggend eerskomende Vrydag oggend, 24 Julie om 10 uur by Trigg Island Cafe Restaurant, 360 West Coast Drive. Kom kuier saam en nooi gerus nog vriendinne saam! Laat weet ook asseblief as julle wil bly vir middagete. Dankie aan almal wat reeds laat weet het. Ons gaan lekker kuier!

Baie sterkte aan Anneke Viljoen wat vandag begin het met haar eie onderneming "Aussie Pooch". Dit is 'n mobiele honde-was eenheid, en sy het gevra of daar enigiemand is wat ou handdoeke aan haar kan skenk om haar voorraad aan te vul. As enigiemand kan help, stuur asb aan haar 'n epos by annekev.lucas@gmail.com

Daar is nog geleentheid om aan te sluit by ons city to surf span. Dit beloof om 'n heerlike dag te wees! Ons het ingeskryf onder die span naam "OZZAWA".
Laat weet asseblief as julle T-hemde wil bestel. Dis oop vir almal wat belangstel - jy hoef nie deel te neem om 'n T-hemp te bestel nie.

Kyk gerus op ons kletsblad http://afrikaansekoffie-oggend.blogspot.com/ vir verdere inligting.

Groete!

Suzette

Wednesday, July 8, 2009

Koffie Oggend 24 Julie 2009

Hi almal,

Ons volgende koffie-oggend is Vrydag oggend, 24 Julie om 10 uur by Trigg Island Cafe Restaurant, 360 West Coast Drive. Kom kuier saam en nooi gerus nog vriendinne saam! As moontlik, bevestig net teen Donderdag 23 Julie sodat ons die getalle met die restaurant kan bevestig.

Laat weet ook asseblief as julle wil bly vir middagete.

Onthou ook om aan te sluit by ons city to surf span. Dit beloof om 'n heerlike dag te wees! Ons het ingeskryf onder die span naam "OZZAWA".

Sien julle daar!

Thursday, July 2, 2009

City 2 Surf, 30 Augustus 2009

Hi almal,

Ons nooi julle graag om by ons span aan te sluit met die jaarlikse City to Surf op 30 Augustus. Dit is 'n 5, 12 of 21 km stap/draf vanaf St Georges Terrace tot by City Beach. Daar is gratis busvervoer terug na die stad vir alle deelnemers.

Om aan te sluit, kliek op https://www.registernow.com.au/citytosurf/ en tik OZZAWA as die span by wie jy aansluit. Indien enigiemand graag t-hemde wil bestel, kontak ons asb op ozzawa@bigpond.com voor 31 Julie 2009.

Die span is spesiaal gestig vir alle nuwelinge in Australie, vriende van nuwelinge of besoekers aan Australie. Dit is 'n wonderlike geleentheid om ons plaaslike gemeenskap te ondersteun.

City to Surf is dag vol pret vir die hele gesin. Kom stap saam en deel in die pret!

Nooi gerus alle belangstellendes om by ons aan te sluit.

Sien julle daar!!

Groete,

Span OZZAWA

Monday, June 22, 2009

Help mekaar - tuin mulch

Hi Almal

Ons het onlangs die volgende e-pos gekry, ons sit dit op die kletsblad want ons wil graag ons mede eks-SAers uithelp. As julle weet van enige ander klein besighede wat julle graag sal wil aanbeveel, laat weet net asb.

***
Dewald Visage besit "Jims Trees Fremantle", en het op 'n gereelde basis hoë gehalte tuin mulch wat hy kan aflewer by jou huis.
Koste: $18 per 1kubieke meter (Soortgelyke tipes mulch kos oor $110 by "Soils and Soils")
Aflewering: gratis- (tensy jy baie ver op die uiteindes van Perth bly sal hy dalk petrol kostes vra)
Inwerk in die tuin: $22 per uur per persoon wat help - as jy dit nie self wil inwerk in die tuin nie. (bv. as 2 mense 1 uur werk = $44))
Kontak Dewald sommer direk (mob: 0466208043) as jy belangstel. 'n Gemiddelde tuin benodig gewoonlik n minimum van so 3 kubieke meter.

Saturday, June 20, 2009

Hannari Bester skryf uit Bloemfontein... (2)

Liewe Almal
Ai, ek is altyd so jaloers as ek die koffie-briefie sien, want ek mis dit regtig baie. Mis die mense so baie, kan altyd koffiedrink, maar die mense is mos ander mense. Ek sien die venue het verander, verandering van spyse?
Hier in Bloem gaan dit baie goed. Het 'n heerlike langnaweek agter die blad en het die familie hier gehad wat kom kuier het. En dit bly darem 'n fees die familie-kuiers. Die lysies is lank wat die plattelanders hier wil kom doen, maar dan kom ek darem ook vir 'n slaggie in die winkels. Gaan nogal dollerig hier met die besigheid, kry nie so baie tyd vir rondloop nie, maar ek kla glad nie. Ons sê altyd in Australie het ons die wereld se tyd gehad, maar nie die fondse nie, nou lyk die fondse darem beter, maar die tyd is minder, maar ek dink ek vat eerder die minder tyd en die meer werk, wat darem 'n bietjie meer geldjie inbring. Ek geniet my werk ongelooflik baie. Ons groep brei teen 'n geweldige spoed uit. Het al gese dat Lesotho baie sterk staan in al drie groot dorpies, Maseru, Mafeteng en Mohole's Hoek, met Argilla. Ek het ook 'n baie goeie bemarker aangesluit wat in Bloem bly, eintlik baie naby aan ons eie huis, waarheen ons mos darem een van die dae trek, maar wat oorspronklik van Gaborone, Botswane is. So ons is geboek vir die middel Julie vir Gaborone. Lyk my ek gaan al verder op in Afrika. Die swartmark is vuurwarm vir ons potte en kook die pa-pa binne 7 minute. Ander wereld, maar baie bevredigend.
Met die res van die familie gaan dit ook baie goed. Marnel oefen dans vir 'n "show" en hulle oefen elke dag van 8h-12h, maar dit hou haar lekker besig, want sy het nog net Engels oor, dan is haar eksamen klaar. Sy is ook weer besig om te werk aan haar sang. Het al twee optredes gedoen. Hanjo het 'n helse Pampoentjies agter die rug, hoë koors en baie siek, was vir 14dae uit die skool. Hy skryf van vandag af eksamen.
Skillie gaan goed. Hy geniet RSA ongelooflik baie. Hy is doenig met allerhande goed en allerhande mense. Het weer lekker kontak gemaak met al die dingetjies wat vir hom so lekker is hier en geniet dit baie. Hy help darem steeds met een hand in die besigheid en die ander besig met sy eie besigheid en klasgee by die Technikon.
Die berge in Lesotho lê wit van die sneeu en is prentjie mooi, maar ons kry die vrek koue hier. Ek kan eintlik nie glo dat ons al so ver gevorder is in die jaar nie, die winter is ook alweer halfpad. Ons gaan die vakansie lekker plaas toe vir 'n week. Gaan skaap, bees en vark slag en Springbokke skiet... sjoe die vleiswerkery op die plaas is altyd baie lekker. Dan is die proviant weer lekker aangevul vir die res van die jaar. Ons skool sluit volgende week en Vrydag, die 26ste, daarom stuur ek maar die briefie vroegtydig.
Verder loop die sokkerkoors hoog hier in SA. Met die dat BafanaBafana nie so sleg vaar nie, sit almal net vasgenael voor die sokker. Moet sê hier is regtig 'n great gesindheid, soos wat almal oor die rugby praat as die Bokke speel, so support ons nou weer die sokker. Dis maar net gesindheid wat die wen kan maak.
Wel ek gaan eers hardloop. Se baie groete vir almal wat saam gaan koffie-drink, en vertel maar die bietjie nuus oor.
Liefde uit Blommetjiesfontein
xxx
H

Thursday, June 18, 2009

Koffie Oggend 26 Junie 2009

Ons volgende Afrikaanse koffie-oggend is Vrydag, 26 Junie om 10 uur die oggend by The Beach Shack, Hillary's Boat Harbour in Sorrento. (Dit is naby die apteek). Daar is genoeg ruimte sodat ons lekker onder mekaar kan kuier, en daar is selfs 'n speelhoekie vir die kleingoed!

Ons wil graag ook almal wat 'n klein sake-belang het aanmoedig om hulle besigheidskaartjies saam te bring, sodat ons mekaar kan ondersteun en mekaar se besighede bevorder.

Nooi gerus ander vriendinne om saam te kom. Dis altyd lekker om nuwe mense te ontmoet!

Indien moontlik, laat weet asb teen Donderdag, 25 Junie, dat ons die bespreking met The Beach Shack kan bevestig.

Hoop om almal daar te sien!

Monday, May 25, 2009

Afrikaanse Koffie-oggend 29 Mei 2009

Ons volgende Afrikaanse koffie-oggend is eerskomende Vrydag, 29 Mei van
10-12 uur by Trigg Island Cafe, 350 West Coast Drive.

Nooi gerus ander vriendinne om saam te kom. Dis altyd lekker om nuwe mense te ontmoet!

Indien moontlik, laat weet asb teen Donderdag, 28 Mei, dat ons die bespreking met die restaurant kan bevestig.

Hoop om almal daar te sien!

Sunday, May 17, 2009

En nou vir ietsie nuuts

Afrikaans Koffie Oggend is nou ook op Facebook. Ons sal alle nuwe kuier datums en pienieks nou ook op Facebook sit. Word asb lid van die groep, soek net vir Afrikaanse Koffie Oggend Perth

Monday, April 6, 2009

Piekniek

Dankie vir die heerlike saamkuier gister. Dit was baie lekker om sommer net die buitelewe van Perth te geniet en mekaar beter te leer ken. Hopelik kan ons weer oor 'n rukkie so iets reel.
Judith het laat weet dat iemand 'n wit Woolworths top op een van die stoele vergeet het. Kontak ons by afrkoffieoggend (at) gmail dot com om te reel om dit by haar te kry.

Hier is 'n paar fotos van die dag... stuur asb nog fotos deur as julle het!









Tuesday, March 24, 2009

Hannari Bester skryf uit Bloemfontein...

Liewe Trigg Koffie-drinkers

Nee wat klink vir my die klomp SAUSSIES leef die Australiers uit daar in Perth. Dit gaan goed met ons. Ons skool sluit Vrydag en natuurlik kan die kinders en Skillie nie wag dat die vakansie moet aanbreek nie.

Marnel se karretjie het gister gebreek, so ek is op die oomblik die Taxi na Kovsies en dit is nou nogal prettig die kantoor in die kar-opset, want soms soos vanoggend het sy net 1 klas, 7h00 - 8h00 gehad en ek sien nie kans vir die oor en weer ryery nie, alhoewel dit seker maar so 8km is, nou sit en werk ek sommer vir daardie uur in die kar. Dit gaan ook met haar baie beter, verland sekerlik nog baie, maar hanteer dit net beter.

Ek is baie besig met die Bemarking. Het ook nou begin om ons haarprodukte aan Salonne te bemark en ons doen dit net elke Woensdag wat ons Salonne gaan sien. Saterdae is mos opleiding en die ander dae is dit Argilla. Argilla-spannetjie groei mooi, almal swart Bemarkers, hier en daar 'n wittetjie van Bloem, maar dit lyk tog of die ouens begin koppies optel en minder bedruk voel oor hulle situasie... en ook bietjie stem dikmaak. Moet se ek leer elke dag baie van die swartmense en hulle kulture en ek dink nogal daar is ook baie verwarring onder hulle, want die snaakste is mos die wittes probeer soos die swartes wees en by hulle tradisies inpas by "geleenthede" en hulle probeer weer by ons s'n inpas... soos wat dit nou die swart-tradisie is dat die man eerste inloop by 'n deur vir die veiligheid daarvan, loop die Witvrouens mos eerste... en ag ons lag ons eintlik dood, want nou lyk dit soos 'n trop skape wat bondel by die hek... ek kan eintlik nie eens die situasie vir julle beskryf nie, dis vrek snaaks om die spulletjie gade te slaan... wie loop wanneer. Maar ons maak nou maak 'n grap daarvan by ons opleidings en dinge, want ons is mos nou bewus daarvan.

Verder is hier nie veel nuus nie. Ons het heerlike weer, maar ek weet Perth se weer die tyd van die jaar voor die winter is ook mos heerlik, so ek kan julle nou nie eens jaloers maak daarmee nie. Ek dink ons herfsblare is meer en mooier... nee ek joke sommer.

Ek wil julle uitnooi as julle dalk vir vriende of familie hier SA wil bederf met Pottery of selfs Velsorg, Juwele ons pragtige Pewter, moet julle laat weet, dan kan ek dit aanstuur. Ons kan die betaling reel. Julle kan dit in my SA-rek. inbetaal as jy nog toegang het of in my Aus. rek, of julle kan met Delia reel. Argilla moet ongelukkig vir die kostes daaraan verbonde in stelle aangekoop word, want om een pot aan te stuur is te duur, tensy dit vir iemand in Bloemfontein is of op 'n plek waar ek Bemarkers het, en dit is close oor die hele SAfrika,

Ek hoop julle het 'n heerlike oggend saam en klink 'n koppie tee op die toekoms van ons almal!!! wat voorspoed, vrede, sukses en goeie gesondheid sal inhou vir 'n ieder en elk wat daar saam is!!!

Mis julle baie, maar geniet Bloemfontein net so baie, as wat ek Perth geniet het.

Ons reel alweer ons volgende groot Multi-dem vir 16 Mei, so tyd vir stilsit is hier glad nie. Ek is GEK oor my werk!!! en kan my volle potensiaal hier uitleef en God daarmee verheerlik!!!

Lovies

Hannari


Monday, March 23, 2009

Piekniek 5 April

Verlede maand se piekniek was soveel pret dat ons besluit het om dit weer te doen! Ons het voorlopig site 1 bespreek by Matilda Bay Reserve in Hackett drive vanaf 10 uur in die oggend. Site 1 is baie nader aan die braai-geriewe. Ons sal weer "bring and share". Antwoord asseblief hier as julle belangstel. Dit is lekker om almal se gesinne te ontmoet en sommer net 'n goeie tyd in die buitelug te geniet. Bring gerus die kinders van alle ouderdomme saam - die terrein is baie kind-vriendelik. Hopelik kan ons weer 'n "krieket-wedstryd" speel. Koste vir eksklusiewe gebruik van die terrein is AUD 55.00 per dag - ons het gedink om dit te deel tussen die aantal gesinne wat opdaag.

Ek sal my selfoon heeltyd by my he. My nommer is 0405 111 616. Skakel gerus as julle sukkel om ons te kry. Die terrein se aanwysings kan bietjie verwarrend wees.

Kom geniet die dag saam met ons - dis groot pret!

Vir meer inligting oor die piekniekplek, kyk gerus op http://www.matildabayreserve.com.au/

Wynproe 27 Maart

Vrydagaand 27 Maart is daar 'n wynproe in die komitee-kamer van Iluka se sportklub (Miami Beach Promenade, Iluka) . Ons aanbieder is van Barwick Estate, en die tema van die proe is wyne van die koeler wynstreke in WA: Pemberton en Manjimup. Dit begin 7 uur en ons is gewoonlik teen so half 9 klaar met die proe. Daarna kuier die wat wil bietjie saam vir nog 'n uur of wat. Koste is $10.00 per persoon. Elkeen bring sy eie proeglase en 'n bordjie eetgoed. Laat weet asb hier as julle belangstel.

Tuesday, March 17, 2009

Volgende Piekniek

Ons het soveel pret gehad met die eerste piekniek dat ons besluit het om dit weer te doen!

Die volgende Afrikaanse Piekniek word beplan vir Sondag, 5 April. Dit sal weer by Matilda Bay wees, maar hierdie keer nader aan die braai-geriewe.

Finale reelings volg later.

Afrikaanse Koffie-oggend 27 Maart 2009

Kliek asseblief hier om te antwoord op die uitnodiging.

Dit is Vrydag oggend 27 Maart 2009 van 10:00-12:00 by Trigg Island Cafe Restaurant, 360 West Coast Drive, Perth.

Hoop om julle almal daar te sien.