Liewe Almal
Ai, ek is altyd so jaloers as ek die koffie-briefie sien, want ek mis dit regtig baie. Mis die mense so baie, kan altyd koffiedrink, maar die mense is mos ander mense. Ek sien die venue het verander, verandering van spyse?
Hier in Bloem gaan dit baie goed. Het 'n heerlike langnaweek agter die blad en het die familie hier gehad wat kom kuier het. En dit bly darem 'n fees die familie-kuiers. Die lysies is lank wat die plattelanders hier wil kom doen, maar dan kom ek darem ook vir 'n slaggie in die winkels. Gaan nogal dollerig hier met die besigheid, kry nie so baie tyd vir rondloop nie, maar ek kla glad nie. Ons sê altyd in Australie het ons die wereld se tyd gehad, maar nie die fondse nie, nou lyk die fondse darem beter, maar die tyd is minder, maar ek dink ek vat eerder die minder tyd en die meer werk, wat darem 'n bietjie meer geldjie inbring. Ek geniet my werk ongelooflik baie. Ons groep brei teen 'n geweldige spoed uit. Het al gese dat Lesotho baie sterk staan in al drie groot dorpies, Maseru, Mafeteng en Mohole's Hoek, met Argilla. Ek het ook 'n baie goeie bemarker aangesluit wat in Bloem bly, eintlik baie naby aan ons eie huis, waarheen ons mos darem een van die dae trek, maar wat oorspronklik van Gaborone, Botswane is. So ons is geboek vir die middel Julie vir Gaborone. Lyk my ek gaan al verder op in Afrika. Die swartmark is vuurwarm vir ons potte en kook die pa-pa binne 7 minute. Ander wereld, maar baie bevredigend.
Met die res van die familie gaan dit ook baie goed. Marnel oefen dans vir 'n "show" en hulle oefen elke dag van 8h-12h, maar dit hou haar lekker besig, want sy het nog net Engels oor, dan is haar eksamen klaar. Sy is ook weer besig om te werk aan haar sang. Het al twee optredes gedoen. Hanjo het 'n helse Pampoentjies agter die rug, hoë koors en baie siek, was vir 14dae uit die skool. Hy skryf van vandag af eksamen.
Skillie gaan goed. Hy geniet RSA ongelooflik baie. Hy is doenig met allerhande goed en allerhande mense. Het weer lekker kontak gemaak met al die dingetjies wat vir hom so lekker is hier en geniet dit baie. Hy help darem steeds met een hand in die besigheid en die ander besig met sy eie besigheid en klasgee by die Technikon.
Die berge in Lesotho lê wit van die sneeu en is prentjie mooi, maar ons kry die vrek koue hier. Ek kan eintlik nie glo dat ons al so ver gevorder is in die jaar nie, die winter is ook alweer halfpad. Ons gaan die vakansie lekker plaas toe vir 'n week. Gaan skaap, bees en vark slag en Springbokke skiet... sjoe die vleiswerkery op die plaas is altyd baie lekker. Dan is die proviant weer lekker aangevul vir die res van die jaar. Ons skool sluit volgende week en Vrydag, die 26ste, daarom stuur ek maar die briefie vroegtydig.
Verder loop die sokkerkoors hoog hier in SA. Met die dat BafanaBafana nie so sleg vaar nie, sit almal net vasgenael voor die sokker. Moet sê hier is regtig 'n great gesindheid, soos wat almal oor die rugby praat as die Bokke speel, so support ons nou weer die sokker. Dis maar net gesindheid wat die wen kan maak.
Wel ek gaan eers hardloop. Se baie groete vir almal wat saam gaan koffie-drink, en vertel maar die bietjie nuus oor.
Liefde uit Blommetjiesfontein
xxx
H